Social Responsibility


‘My voete loop na Wellington’

Dit is 1 Januarie 2011. Ondanks die reën heers afwagting in die Boland-rugbystadion vir die koms van die Wellingtonse klopse vir die jaarlikse klopsekompetisie.
Die reën is ongewoon vir dié tyd van die jaar. Dit het reeds die eerste jaarlikse optog deur die strate van Wellington gepootjie. Maar dit het nie die groot skare verhinder om reeds die hoofpawiljoen te vul nie. Só passievol is die mense oor hul klopse.
Die klopse van Wellington is dalk nie so bekend soos dié van die Kaap nie, maar aan geesdrif, passie en talent hoef hulle nie ’n duim agteruit te staan nie.
Dit is ’n tradisie wat ontstaan het toe die eerste groep van oom Tommy Isaacs (oom Gawie Adams se oupa), genaamd die Merry Springboks, in 1909 in hul groen-en-goud die mense vermaak het.
Wanneer al 14 troepe opgedaag het, sit almal netjies in gelid op die oostelike pawiljoen.
Sommige troepe het tot 170 lede, en die ouderdomme wissel van 1 tot 76 jaar, lig oom Gawie my in.

Ek is gefassineer deur die kleurespel: ougoud en pers, swart en rooi, seegroen en room, hemelblou en pienk, maroen en kanariegeel, wit en koningsblou. Wie ook al die kleurskakeringe kies, weet wat hulle doen.
Daar is doodse stilte wanneer die pastoor die dag met gebed begin. Dit is asof die Liewe Vader aandagtig luister, want die reën hou meteens op.
Die program begin met die Afrikaanse moppie. Dit is een van die belangrikste nommers omdat groot pryse wat deur die ATKV en weldoeners soos dr. Manie en mev. Winnie Rust verskaf is, gewen kan word.
Die moppie (die bekendste is waarskynlik “Rosa”) is ’n tradisionele Afrikaanse lied wat deur die troepe verwerk word om op ’n komiese wyse sosiale kommentaar te lewer. Elke troep het ’n koorleier wat die lirieke skryf en die komposisie verwerk.
Die klopsename op sigself spreek boekdele: Daar is die Tulips, tans die oudste groep. Ook verskeie ander troepe dra blommename, soos die Coronations, die Caledonian Roses en die Disas, want die Wellingtonners is baie lief vir blomme, veral dahlias en krisante.
Ander name herinner die jeug daaraan dat hulle uit eie reg sterre is, soos Hillcrest Starlites, Pearlites en Superstars. “Hierdie kinders moet voortdurend hoor dat hulle enigiets kan bereik as hulle bereid is om hard te werk”, sê Jermaine Davids, een van die leiersfigure by die Superstars.
Ek kom gou agter daar loop ’n goue draad deur die geskiedenis: Die paaie van die rugbyklub Roslins (in 1896 gestig), die Kerskoor Good Hopes­ (in 1947 gestig) en die Tulips, oorspronklik van Verlate Kloof, loop hand aan hand. Op Kersfees marsjeer jy vir die Good Hopes, op Nuwejaar sing jy vir die Tulips, en in rugbytyd speel jy vir die Roslins. Dit is een groot familie.

Ander name, soos Ghosterians, suggereer dat hier ’n storie te vertel is.
Die betrokke troepleier, Turnhill Abrahams (beter bekend as Proes), verduidelik: “By die ingang van ons woonbuurt is daar ’n historiese begraafplaas. Volgens oorlewering loop die spoke snags hier in ons buurt. Toe noem ons die buurt Ghosttown, en nou is ons die Ghosterians.”
Daar is ook die Melodies, die Wheels, die Claytonians, die Pelicansylvanians en die Young Stars.
“Die woord young is ’n aanduiding dat die groep ná ’n lang afwesigheid terugkeer in die vorm van die stigterslid se seuns,” verduidelik Mario Small, voorsitter van die Young Gold Dollars.
Dan is daar die Millionaires. Ironies is dit die armste troep. “Meneer kan sien ons mense woon in hokke; die kinders het nie geld vir hul uitrusting nie. Nou betaal ek en my man maar die geld,” vertel Umna.
Die trane loop oor haar wange. Maar hoe? “Ons bedryf ’n mobile (’n huiswinkel in die township), en al die wins van die sigarette gaan net so vir klopse. Nou spot die mense vir ons en sê ons gedra ons soos miljoenêrs. Toe noem ons ons troep sommer die Millionaires.”
Hoekom doen Umna dit?
“Net virrie liefde daarvan,” kom die eerlike antwoord. “Die kinders het niks anders oor die vakansiedae nie, en hul enigste nuwe klere vir Kersfees is hul klopseklere. Al het ons nie baie nie, staan my deur oop vir almal.”

Die Millionaires is brandarm, maar hulle is ryk in hul eenvoud, ryk aan tradisie en skatryk aan hul passie vir Afrikaanse musiek. Dit maak hulle vir my die miljoenêrs van die Afrikaanse taal en kultuur.
Dit val op dat ’n groot getal van die lede jongmense is. “Ons wil iets bied wat die jeug sal ophef,’’ sê Calvin Albertus, voorsitter van die Melodies, wat in Weltevrede gesetel is.
Sy adjudant, Mitchell Hartogh, beaam: “Die kerk faal in sy plig, en die skole doen dit lankal nie meer vir ons kinders nie.”
Een van die legendes, Christy Abrahams (beter bekend as Madal), sê: “Elke troep het ’n grondwet met ’n gedragskode.”
In ’n klopse-klubhuis is meer dissipline as in die meeste klaskamers, spog nog ’n legende, Gideon Adams, alias Pônie.
Vroeër is orkeste gehuur, maar deesdae ontwikkel die troepe hul eie musikante. Die meeste orkeste bestaan uit ongeveer 20 lede, wat beteken daar is maklik tot 400 musikante in die dorp.
Die jongelinge word deur hul vaders, oupas en ooms geleer. Deesdae is veral koperblaasinstrumente soos die trompet en die tromboon gewild. Die ouer garde verkies die snaarinstrumente, soos die kitaar, banjo, viool, mandolien en ghoema.
Byna elke sfeer van Wellington se samelewing is by die klopse betrokke. Daar is die kerkman en voormalige burgemeester oom Gawie Adams. Wyle oom Krisjan Goliath, die polisiespeurder wat die skurke met sy fiets gejaag het, was ’n leier van die Tulips. Onderwysers soos Heinrich Appollis en Jaftha Fisher speel ’n leidende rol, terwyl Jackie Abrahams en Francois Davids van Boland-rugby, die prokureur Clarence le Cordeur en Elrico Davids, ’n jong entrepreneur met ’n M-graad, almal behulpsaam is.

Die storie is nie volledig sonder die bydraes van twee spesiale vroue nie: Magdaleen Williams (auntie Mac) in Josephslaan en Christina Lewis in Poollaan.
Hier word die klopse se klere gemaak. Albei doen dit sonder winsbejag, en saam bied hulle werk aan ongeveer 30 vroue in Wellington.
Auntie Mac hoop die government sal hulle help om een van die vrugte-inmaakfabrieke wat leegstaan, in ’n werkswinkel te omskep sodat al Wellington se klopse-uitrustings plaaslik gemaak kan word.
‘‘Dink net hoeveel werksgeleenthede sal dit skep,” sê sy.
My laaste stop is by die Corries, Willem Walters se span. Hier word die gesprek afgesluit as die groep sy nuwe moppie vir ons sing.
’n Banjo en ’n kitaar begin tokkel. Dan begin die koor sing. Willem het die lirieke geskryf: “Ek het een nag wakker geword en net geweet ek het die regte woorde gevind,” vertel hy.

Wanneer ons uit Bo-Parkstraat wegry, dink ek aan dié eenvoudige maar trotse mense wat in Afrikaans skryf en dig, in Afrikaans komponeer en in Afrikaans sing. Hoe die kultuur van geslag tot geslag oorgedra word, meer as 100 jaar.
Die handgeskrewe lirieke wat teen die mure van die klein, bedompige klopsekamers pryk, sal my altyd bybly. Dit is woorde wat uit mense se hart kom, wat oor hul swaarkry praat, maar ook hul hoop en passie verwoord.
Hulle is nie praatmense nie, maar doen ongelooflik baie vir Afrikaans en nasiebou. Hulle doen meer opheffingswerk as waarvan politici kan droom. En hulle doen dit “net virrie liefde daarvan”. Sonder borge.
)Dr. Le Cordeur is die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Hy en Marlene le Roux van Kunstekaap het in Verlate Kloof saam met die klopse grootgeword, en hulle werk aan ’n boek oor Wellington se klopse.
Die Ghosterians van Wellington het hul naam gekry weens die spoke wat na bewering snags loop in die historiese begraafplaas naby hul woongebied. Hier is hulle saam met mnr. Ulrich Froese en me. Mona Borggrebe, Duitse eienaars van die gasteplaas Augusta Kleinbosch buite die Paarl. Die egpaar het nuwe musiekinstrumente ter waarde van R26000 aan die Ghosterians geskenk.

Foto’s: francois lötter
Mnr. Turnhill Abrahams, troepleier van die Ghosterians, met mnr. Ulrich Froese en me. Mona Borggrebe .